LASLAPPIES KOMBERS

LASLAPPIES KOMBERS
"Langs die wa-pad le spore van gister"

Monday, June 17, 2013

Ruiter In Die Nag

legende Van Die Nag Ruiter



Image result for ruiter in die nag lirieke














`n Nuwe roman in wording, getititeld "DIE NAGRUITER" sal voortaan hier op my blad verskyn in episodes. Kritiek is welkom en u bydraes word waardeer. Hier volg my eerste aflewering:


Wednesday, May 15, 2013

SONVANGER

"Hierdie is `n kosbare lied vir my en word opgedra aan al die lesers van "Laslappies Kombers om julle almal, ja, `n ieder en elk, van my kosbare lesers, `n mooi dag toe te wens,"

Liefde,

Andre' Hartslief 

Friday, April 12, 2013


My lewe, ‘n laslappie kombers …

‘n Laslappie-kombers, soveel verskillende kleure
‘n Roostuin wat blom, soveel verskillende geure
Dit is hoe ek my lewe wil sien
Ek wat ‘n God van liefde dien
Soms is die kleur van my lewe swart
Dan vra ek vergifnis diep uit my hart
Soms is die kleur van my lewe rooi
Blink oë en ‘n hart vol liefde getooi
Soms is die kleur van my lewe geel
Sulke dae wat ek my hart verseel
Soms is die kleur van my lewe blou
Geluk in my hande wat ek na jou toe hou
Soms is die kleur my lewe groen
Wonder wat ek op hierdie aarde doen
Soms is die kleur van my lewe grys
Dan ‘n vriendin wat haar liefde vir my wys
Maar vandag is die kleur van my lewe ‘n reenboog so mooi
Met vrede, liefde, geluk, en respek wat ek na jou kant toe gooi
Ek sê dankie vir my Vader in die Hemel dat ek ‘n reenboog kan wees
Want almal wat my ken, kan altyd die kleur van my lewe op my gesig lees
My lewens-reenboog het ‘n breë goue rant
Want ek weet Hy is elke dag aan my kant
n Kleurvolle lewe waarna ek smag
Liefde, vreugde en respek elke dag
Mag die rooi en blou ook jou lewe omvou
Jy mag foute maak solank jy dit berou
Mag die goue rant jou reenboog verhelder
Hartseer, Seer en verlange vir altyd kelder
Hulle sê onder die reenboog vind jy mos ‘n pot goud
Goud het ek reeds gevind, want my God is my behoud
Blou, pienk, oranje, pers en rooi
My lewe ‘n laslappie-kombers, kleure so mooi …

Wednesday, March 27, 2013

MAG JY N` AFRIKANER WEES?


Wat omskryf en bepaal identiteit? Is dit empiriese eienskappe soos jou voorkoms? Is dit dalk die kulturele milieu of geografiese ligging waarin jy jouself bevind wat deurslaggewend is vir wie jy is? Is dit dus die taal wat jy praat, jou vriende en familie en jou kulturele gebruike wat bepaal wie jy is? Is dit dalk jou historiese ervaringe van onderdrukking en ontbering wat jou na ‘n spesifieke identiteit lei? Dit kan al hierdie faktore wees of slegs ‘n paar afhangend van jou eie siening van jou identiteit. Identiteit is grootliks selfdefiniërend en elke persoon wat homself behorende tot ‘n groep ag, is teoreties wel lid van daardie groep. Anders gestel, jou identiteit begin by jou keuse om dit te aanvaar.
Mense kan desgelyks ook deur groepe (of ten minste groot dele daarvan) aanvaar word al dan nie, al beskou hulle hulself deel van daardie groep. Dit is in talle opsigte problematies en sal aanstons aangeraak word, maar verander nie ‘n persoon se eie siening van sy identiteit nie. Groepe is ook nooit homogeen of heeltemal eenders nie en identiteit is in talle aspekte plooibaar terwyl daar ook tasbare ooreenkomste tussen die lede van bepaalde groepe is. Identiteit is dus ook subjektief en word op talle vlakke anders deur “sub-groepe” uitgeleef. Al elf landstale het immers klomp dialekte en word anders deur mense in verskillende kontekste gepraat. Voorskriftelikheid oor wat “eintlik reg is”, sal dit nooit verander nie.
Mense kan ook gelyktydig veelvuldige identiteite hê soos om ‘n Christen, ‘n Afrikaner, ‘n Afrikaanssprekende en ‘n Suid-Afrikaner te wees. Of ‘n Engels- én Xhosasprekende, ‘n agnostikus, ‘n rugbyliefhebber en terselfdertyd ‘n Afrikaan. Hierdie identiteite is nie wedersyds uitsluitend nie hoewel ‘n indiwidue tog sterker oor sommiges as oor ander voel.
My hooftema in hierdie artikel is egter dat dit nie slegs saakmaak of jy jouself ‘n spesifieke identiteit oplê nie, maar ook die mate hoe jy jouself in daardie identiteit kan uitleef. ‘n Identiteit met min of geen toepassingswaarde is eintlik geen identiteit nie omdat die uitleef daarvan sy bestaan bepaal. ‘n Voertuig verloor immers sy bestaansrede as dit nie bestuur kan word nie.
Die rede vir hierdie skrywe is dat groot dele van die regering se veelbesproke Nasionale Ontwikkelingsplan (NOP), wat deur die ANC as ‘n rigtinggewende dokument aanvaar is, juis identiteit (veral in die kulturele sin) ter wille van regstelling (in ‘n ekonomiese in) wil afwater. Terwyl die media grootliks gaande is oor die plan, skuil daar menigte duiwels in die besonderhede.
Die laaste hoofstuk handel byvoorbeeld oor nasiebou. Nasiebou is basies ‘n strategie om lojaliteit onder die bevolking teenoor ‘n bepaalde staat te kweek ten einde ‘n soort ‘nasionale’ nasionalisme onder die land se subgroepe te kweek. Dit behels onder meer om ‘n gemeenskaplike geskiedenis te skep en dit in skoolsillabusse in te voer; om lojaliteit teenoor gemeenskaplike simbole soos ‘n landsvlag, landswapen en ‘n volkslied te skep; en ook die gebruik van een taal te bevorder. Helaas is daar onbedoelde, of in die geval van die NOP, bedoelde gevolge. In relatief homogene state (daar is myns insiens nie heeltemal homogene state nie) is dit maklik om een taal te identifiseer en bevorder, maar in ‘n heterogene staat soos Suid-Afrika is dit veel moeiliker. Nasiebou ondergrawe daarom minderheidsidentiteite en verskraal group-lojaliteite ter wille van staatlike nasionalisme. Daarmee saam word hierdie identiteite se taal, kultuur, geskiedenis en gebruike ook noodwendig verskraal, veral in diep verdeelde samelewings soos Suid-Afrika.
Die Noorweegse politieke wetenskaplike Pål Kolstø sê die hedendaagse metode vir die voltrekking van nasiebou is “integrasie”. Hy voer verder aan dat minderhede dan noodwendig kultureel by die meerderheidgeïntegreer word. Anders as in state waar een groep 80% of selfs 90% van die land uitmaak en dus die karakter van die land maklik kan bepaal, moes Suid-Afrika as’t ware “herskep” word in 1994 om van nuuts af ‘n nasie te vorm. Meeste Suid-Afrikaners (asook meeste Afrikaners) het die nuwe landsvlag en volkslied aanvaar. Baie “kulturele” praktyke soos braai vind ook aanklank onder meeste burgers van die land. Sport is ‘n ander robuuste (ofskoon tydelike) nasiebou-middel. Hierdie lojaliteite is tot ‘n groot mate vrywillig gekweek sonder wetgewing of dwang.
Die NOP is ‘n egter ‘n verdraaiing van nasiebou. Dit veronderstel dat Suid-Afrika bloot sy sosio-ekonomiese uitdagings te bowe moet kom en dan sal almal ‘n nasie vorm wat gelukkig en ekonomies vooruitstrewend wees. Swartmense moet dus geëmansipeer word en dan is nasiebou basies voltrek. Integrasie op elke gebied is dus nodig. Eerstens in die werksplek, maar ook geografies en in woongebiede. Sportspanne moet ook die demografiese profiel van die land weerspieël. As dit gaan gebeur nie, gaan rassisme voortduur en nasiebou nie plaasvind nie, aldus die NOP. Teen die einde van die hoofstuk kom die idee van “eenheid in diversiteit” amper as ‘n nagedagte deur. Daar word aangevoer dat Suid-Afrika nog nooit ‘n smeltkroes was of sal wees nie, en dat mense veelvuldige identiteite het.
In die lig van Kolstø se gesigspunte, weerspreek die dokument homself in hoe nasiebou toegepas moet word. Integrasie sal op talle vlakke daartoe lei dat die minderhede verswelg word deur die meerderheid. Afrikaans se kreeftegang in die staatsdiens en sakesektor en by talle universiteite bewys dit. Daar word juis in die dokument bepleit dat almal Engels magtig moet wees teen 2030 en dat alle kinders ‘n Afrikataal op skool moet neem. Dit is ‘n billike versoek en een waaroor ek persoonlik baie positief is. Afrikaans word egter benadeel deur hierdie voorstel omdat dit nie dieselfde statutêre beskerming geniet nie en dus sal sy sprekers aan die agterspeen suig sover dit hul identiteit betref. Dit sluit dan aan by my punt dat dit per slot van sake nie afhang van hoe ons onsself sien nie, maar hoe ons ons eiesoortige identiteite kan uitleef, wat lotsbepalend vir die oorlewing van ons kulture en identiteite gaan wees.
Met die Wes-Kaap as sekerlik die enigste uitsondering, sal die NOP se integrasie-planne – met opofferings wat slegs deur sekere groepe gemaak word – die doodskoot vir minderhede soos die Afrikaner en bruin Afrikaanssprekendes se identiteit, asook vir Afrikaans as taal, wees. Die Afrikaner se swak demografie asook die groep se verspreiding regoor die land, terwyl ander groepe in sekere dele gekonsentreer is, bewys hierdie aanname.
Ek wil daarom voorstel dat die NOP se fokus op integrasie eerder na “respek” verander behoort te word. Indien die regering ernstig is oor sy siening dat eenheid deur diversiteit moontlik en selfs wenslik is, sal dit eerder vra dat almal in die land nie net mekaar as indiwidue respekteer nie, maar dat gemeenskappe mekaar ook respekteer en dat die staat die onderskeie gemeenskappe onder sy jurisdiksie respekteer. Diversiteit is en was nog nooit gelyk aan assimilasie nie en geïntegreerde instellings is bowendien geen waarborg dat rassisme gaan verdwyn nie.
Elke identiteit – Suid-Afrikaner, Afrikaner, Afrikaanssprekende, Zoeloe, Tswana, ensovoorts – het ruimtes en ‘n gemeenskap nodig om te gedy. Die NOP vernou hierdie ruimtes en vra opofferinge van sekere groepe en maak groot toegewings aan ander. Nasiebou het ‘n groot kulturele element en ‘n klem op pluralisme ingebou, en gedwonge integrasie en meerderheidsdominasie is in stryd daarmee. Die plan vernietig geensins die reg om jou identiteit uit te leef nie, dit maak dit net prakties moeilik en uiteindelik ook onmoontlik. Die Grondwet magtig mense nie verniet in Art. 31 om hul kultuur te geniet, hul taal te gebruik, hul godsdiens te beoefen en dan ook instellings met sulke karakters te stig nie. Dit maak nie van Christene, Moslems of Zoeloes mindere Suid-Afrikaners nie, en dieselfde geld vir Afrikaners en Afrikaanssprekendes.
Brink is ‘n senior navorser verbonde aan die Solidariteit Navorsingsinstituut (SNI) asook die FAK se N.P. van Wyk Louw Sentrum. Hy skryf in hierdie ruimte in sy persoonlike hoedanigheid.